STILBAAI is die Wes-Kaapse wenner van Kwêla se Dorp van die Jaar-kompetisie en is nou een van nege dorpe wat vir die kroon gaan meeding.
Nadat Stilbaai aanvanklik genoeg stemme ontvang het om ‘n semi-finalis in die Wes-Kaap-streek te wees, is daar Sondagaand (31 Maart) aangekondig dat Stilbaai meer sms-stemme as die ander twee semi-finaliste, Worcester en Bredasdorp, ontvang het en dus die wenner van die Wes-Kaap is. Dit is ook die eerste finalis wat in vanjaar se kompetisie aangekondig is met die res van die agt streke se wenners wat die volgende paar weke aangekondig sal word.
Wanneer al nege dorpe op Kwêla gewys is, sal die publiek van 18:00 op 26 Mei tot 12:00 31 Mei 2019 vir die wendorp kan stem. Daar word tot 30 sms’e per nommer toegelaat. Die wendorp word op 16 Junie 2019 op Kwêla aangekondig.

Wie kwalifiseer?
Enige dorp in Suid-Afrika of Namibië kan benoem word, mits dit:

  • Minder as 500 000 inwoners het
  • Nie ’n streekswenner in die laaste twee jaar was (2017: Mosselbaai, Margate, Nespruit/Mbombela, Hoopstad, Tzaneen, Vanderbijlpark, Barkley-Oos, Van Zylsrus, Gobabis. 2018: Fochville, Wakkerstroom, Jeffreysbaai, Montagu, Upington, Mariental, Parys, St. Lucia).
  • Vorige wendorpe mag vir 5 jaar na hulle as wenner aangewys is nie weer deelneem nie (Sabie, Fouriesburg, Middelburg, Hentiesbaai, Mosselbaai en Jeffreysbaai.).

Volgens Kwêla is die wendorp die dorp wat die meeste sms-stemme ontvang het. Die wendorp kry ’n ongelooflike R1 miljoen se bemarkingswaarde van kykNET. Homebrew Films, die vervaardigers van Kwêla, sal ’n 45 sekonde advertensie oor die dorp maak, wat gedurende kykNET se advertensietyd uitgesaai sal word. Daar sal ook ’n groot KIA dorp van die jaar-makietie in die wendorp gehou word – musiek, kos, pret en sommer baie van daai wendorp-gees! Kwêla sal weer daar wees om dit te verfilm, en dit sal later die jaar uitgesaai word.

Hier is die program wat Kwêla oor Stilbaai gemaak het.

#JouKwêlaDorp