‘Die Blou Seekat’ het vastrapplek in Stilbaai-Oos gevind en het onlangs sy deure oopgemaak om kliënte te verwelkom.
Dié ‘nuwe’ drankwinkel, die enigste aan die oostekant van Stilbaai, is perfek geleë langs die kafee in Hoofweg-Oos by die eerste stopstraat en is in die hande van Adolf Botes en Johannie Vermeulen wat bekend geword het vir hul groot verskeidenheid uitgesoekte wyne, boetiekbier en spesiaal-vervaardigde gin by hul wynboetiek, Stilbaai Kelders, in Voortrekkerstraat in Stilbaai-Wes.
“Ons wil deur middel van Die Blou Seekat-drankwinkel aan kliënte in Stilbaai-Oos dieselfde diens lewer as wat ons by Stilbaai Kelders doen alhoewel ons vanweë die beperkte ruimte ongelukkig nie dieselfde hoeveelheid voorraad, en veral wyn, daar kan aanhou nie,” sê Botes.
Kopers sal egter aangenaam verras wees deur die hoeveelheid en verskeidenheid produkte in die nuwe winkel en die Blou Seekat is gereed vir die vakansiebesoekers. Kliënte wat uit meer as 700 wyne wil kan kies en sommer verdere aankope doen terwyl hulle in die weste is, kan Stilbaai Kelders besoek terwyl diégene wat nié oor die brug gaan nie, wel die ander gewilde produkte by Die Blou Seekat sal kry.


Ys is ook hier beskikbaar terwyl gesuiwerde water binnekort ook hiér getap sal kan word. Ander dienste wat dié twee winkels lewer, is die verhuring van glase vir funksies asook kroegdienste terwyl daar ‘n groot verskeidenheid geskenke by Stilbaai Kelders is om van te kies. Daar sal gedurende Desember ook weer  gereelde wynproegeleenthede en ander promosies by Stilbaai Kelders aangebied word terwyl promosies ook vir Die Blou Seekat beplan word.
‘Die Blou Seekat’ is daagliks (behalwe Sondae) oop van 9:00 tot 18:00 en tot 20:00 gedurende Desember.
Besoek gerus hul Facebook-bladsye – Die Blou Seekat Drankwinkel  en Stilbaai Kelders – vir meer inligting.

Einde