Dit was ‘n behoorlike fees! Daar was omtrent iets vir almal by Stilbaai se ‘Hessequa Heritage Festival’ wat op Saterdag, 23 September, aangebied is.
Die avontuurlustiges – die fiks en onfikses, hardlopers en stappers, oud en jonk – kon aan die 5km Pret Trail Run deelneem of die meer uitdagende 16km Trail Run, wat in Jongensfontein begin het en kuslangs by Skulpiesbaai by die korter roete aangesluit het en by Stilbaai se Toerismeburo geëindig het, doen. By die eindpunt was heerlike kos en ander interessante stalletjies met die feestelikhede by die eindpunt wat ook die eerste Brood- en beskuitmark ingesluit het. Feesgangers het rustig gekuier met lekker boeremusiek, wat deur plaaslike kunstenaars verskaf is, in die agtergrond.
Die 16km Trail Run is deur deur die Riversdale-hardloper, Leon Adams gewen terwyl Francis Matthee die eerste dame by die einde was. Die jong hardloper, Dewald le Grange, het die 5km Pret Trail Run gewen terwyl Michelle Kleingunther die eerste dame by die einde was. Daar was so 203 deelnemers waarvan 81 die 16km-roete begin het terwyl 122 entoesiaste die korter afstand aangedurf het.
Volledige uitslae is beskikbaar op die geleentheid se webtuiste: mystilbaai.co.za/hessequa-heritage-festival/ waar skakels na die Facebook-bladsy (Hessequa Heritage Festival) se fotogalerye ook gevind kan word.
Die kompetisie om die bobaas Beskuitbakker/-bakster aan te wys, was omtrent straf en nadat die vier beoordelaars die 24 inskrywings geproe het, was dit Poppie Joubert wat met die wenprys, geborg deur Eureka Mills, weggestap het.
Die organiseerders wil graag die hoofborg, Harcourts Stilbaai, vir hul ondersteuning en hulp bedank asook almal wat die dag se verrigtinge ondersteun het.
Daar word beplan dat dié fees wéér tydens Erfenisnaweek, oftewel Braainaweek, in Stilbaai aangebied sal word. Die 2018-datum, die formaat (wat beslis weer Trail Runs sal insluit) en al die nodige inligting, sal op die Hessequa Heritage Festival se webtuiste aangekondig word.
(Lees gerus ook Suid-Kaap Forum se artikel met foto’s en video’s HIER)
Einde