SUID-KAAP FORUM – 15 Februarie 2018: Die Suid-Kaap het onlangs weer argeologiese geskiedenis gemaak nadat daar amptelik bekend gemaak is dat van die versteende spore wat oos van die geelkranse by Stilbaai ontdek is, inderdaad kameelperdspore is.
Daar was ook verskeie ander vondste en spore. Die bevindings van die kameelperdspore is ongeveer twee weke gelede in die South African Journal of Science gepubliseer.
Die Stilbaai-navorser, Jan de Vynck (MSc: PhD ingedien) wat verbonde is aan die Nelson Mandela Universiteit (NMU) en die Universiteit van Johannesburg (UJ) en wie deel uitgemaak het van die span wat verskeie besoeke aan dié gebied gebring het, het die belangrikheid van dié ontdekking met Suid-Kaap Forum gedeel.
Hy was ook die medeskrywer van die gepubliseerde artikel en het dit saam met dr. Charles Helm opgestel.
Kameelperde het spesifieke voedselbehoeftes en hul habitat is grasvelde (savanna), wat beteken dat hulle nie sou oorleef as die gebied nie vir hulle geskik was nie.
Histories is bewyse van kameelperde nog net tot op die 29ste breedtegraad gevind by die Oranjerivier en eenmalig in die noordelike Namakwaland (30ste breedtegraad), met Stilbaai wat by die 34ste breedtegraad geleë is.
Die seevlak was gereeld baie laer as vandag as gevolg van ystydperke en die toename van ys op die pole.
Die see was dan baie ver weg – meer as 100 km – en het ‘n bewoonbare landskap ontbloot, die Agulhas-bank.
Die spore dateer uit die tweedelaaste ystydperk (195 000 tot 123 000 jaar gelede) en is dus ‘n duidelike bewys dat hierdie hedendaags ondersese landskap toe ‘n savanna landskap was.
Die onlangse ontdekking volg op vorige argeologiese vondste in die omgewing, wat insluit die Stilbaai Punt wat in die 1930’s deur CHTD Heese, die oupa van die voorsitter van die Hessequa Vereniging vir Argeologie, dr. Chris Heese, gemaak is.
Dit was een van die ontdekkings wat die belangrikheid van dié omgewing beklemtoon het vir die ontstaan van moderne mense.
Daarna het prof. Chris Henshilwood die okerklip met die merke op en later die krale by die Blombos-grot wes van Stilbaai ontdek.

Die simboliese artefakte dui op die kognitiewe vorming van ons spesie en hierdie vondste dateer uit die Middel-Steentydperk vanaf 77 000 jaar gelede en ouer.

Dit het weereens bevestig dat die Suid-Kaap argeologies spesiaal is.
Die volledige kameelperdspore publikasie is beskikbaar by www.sajs.co.za
Op 9 Maart om 19:00 word ‘n praatjie deur drs. Curtis Marean en Naomi Cleghorn by die Jagersbosch Waenhuissaal aangebied, wat sal handel oor die nuutste wêreldroerende projekte.

Lees dié artikel in die Suid-Kaap Forum HIER

(Foto verskaf)