Stilbaai, ons rustige vakansie- en aftreedorpie in die Hessequa-streek in die Suid-Kaap, is vanjaar gekies as die gasheer vir die tweejaarlikse Opblaaskragboot Wêreldkampioenskap wat vanaf 21 tot 28 Maart 2020 aangebied word.
Dié kampioenskap, bekend as die Union Internationale Motonautique P750 (UIM P750) World Championship, is in 2018 in Frankryk aangebied terwyl dit vantevore ook al in Kaapstad, Port Elizabeth en Oos-Londen aangebied is. Die kompetisie is uiters straf met spanne van regoor die wêreld van sover as Brittanje, Frankryk, Ierland, Duitsland, Noorweë, Swede en Sri-Lanka asook plaaslike en Namibiese spanne, ding vir die wêreldkampioenskapstitels in die Pro-Stock en Gemodifiseerde ‘Modifieds‘ Klasse deel. Daar word verwag dat tot 65 spanne bestaande uit twee persone elk vir dié kompetisie sal inskryf met die ondersteunings- en diensspanne wat nóg ongeveer 400 persone kan insluit.
Die sentrale punt van die aktiwiteite is die Ellensrust Karavaanpark in Stilbaai-oos waar die deelnemende spanne en hul diensspanne tuisgaan. Die kompetisie bestaan uit verskeie afdelings met die Surf- en Langafstand-kompetisie wat oor drie dae by die Lappiesbaai-hoofstrand sal plaasvind terwyl die baanren op platwater (Flatwater Circuit) oor twee dae in die see by die hawe sal geskied.


Daar is ook twee rusdae in die program ingewerk wat voorlopig vir Dinsdag (24 Maart) en Vrydag (27 Maart) beplan word. Die program is egter onderhewig aan veranderings met die weer wat ‘n groot rol in die aktiwiteite speel. Die span van Stilbaai, Raynor Becker en Hugo Erasmus, wat in 2018 as die Pro-Stock-wêreldkampioene aangewys is, sal poog om dié titel met titel Inverroche-kragboot suksesvol te verdedig.
Stilbaai, wat laas jaar tweede in die Kwêla Dorp van die Jaar-kompetisie geëindig het, is gereed en voorbereid op dié belangrike byeenkoms wat boonop ook in die skoolvakansie plaasvind. Dit beteken dat vakansiegangers en besoekers al die aksie ten volle sal kan ondersteun.
Die groot toename in besoekers gedurende dié tydperk in Stilbaai beteken ook ‘n bykomende ekonomiese inspuiting vir die dorp en besighede, organisasies en ander plaaslike byeenkomste sal daarby baatvind. Organisasies soos die Stilbaai Sakekamer kommunikeer reeds met hul lede in aansporing om gereed te wees vir dié byeenkoms en die meeste daarvan gedurende die vakansietydperk te maak. Stilbaai Toerisme sien ook daarna uit om die besoekers te verwelkom en oor die dorp en aktiwiteite in te lig.
Besoekers kan gerus ook uitkyk vir ander aktiwiteite wat gedurende dié tydperk in Stilbaai aangebied word. Dit sluit in die Stilbaai Craft Beer, Gin & Wine Expo op 26 en 27 Maart in die gemeenskapsaal; die Brugmark wat elke Saterdag in Stilbaai-oos aangebied word asook die Jongensfontein Kunsmark (Saterdag, 28 Maart) en die Kasselshoop Farm Run op Saterdag, 21 Maart. Daar is ook ‘n kunsuitstalling in die gemeenskapsaal van 21 tot 25 Maart terwyl die duo, Coffee Snobs, Saterdagaand (28 Maart) ‘n buitelug piekniekkonsert by Stilbaai Toerisme aanbied.
Volgens Ryno Becker, wat ‘n groot rol gespeel het om dié byeenkoms na Stilbaai te bring, is hulle uiters dankbaar vir besighede soos Inverroche Distillery asook OK Foods Stilbaai wat as borge tydens die geleentheid optree terwyl dit ook nie moontlik sou wees sonder die ondersteuning van rolspelers soos die Hessequa Munisipaliteit nie.

Einde

(Saamgestel deur Elza Thiart-Botes van www.mystilbaai.co.za in samewerking met Ryno Becker, rolspelers en betrokke organisasies)

Raynor Becker (regs) wat die ‘pilot’ van die Inverroche-opblaaskragboot is en Hugo Erasmus (links), wat die mede-jaer is, is die huidige Pro-Stock-wêreldkampioene en sal poog om hul titel suksesvol wil verdedig.