Volgens ‘n berig wat op 3 September 2015 in SakeBeeld verskyn het, sal vakansiegangers in die komende Kaapse vakansie minder frustrasies met selfoonnetwerke ondervind en behoort hulle makliker met Facebook en Twitteroor die weg te kom terwyl hulle ook foto’s sal kan laai.
Francois Williams berig dat die selfoonoperateur, Vodacom, mobiele selfoontorings by gewilde vakansiedorpe Stilbaai en ook Hermanus en Onrus en aan die Weskus gaan oprig om sy netwerk in die Desembervakansie in dié gebiede te versterk.
Volgens dié berig het Alberts Breed, bestuurder van Vodacom in die Wes-Kaap, gesê dat van die dorpe met sowat 10 000 inwoners in vakansietye tot dubbel soveel mense het en dat Vodacom in die verlede probleme gehad om die skerp groei in data- en selfoongebruik in dié tyd te hanteer.
Aanhaling: “Tydelike basisstasies gaan gebruik word wat ná die vakansie ook by spesiale geleenthede soos feeste of sportgeleenthede gebruik kan word waar ’n hoë vraag na breëband-internettoegang verwag word.
“Elke kind het ’n foon en wil op Facebook gaan en foto’s oplaai, so ons wil die vermoë hê om dié groeiende dataverkeer te kan hanteer.”
Volgens Breed gaan R180 miljoen nog in dié boekjaar in die Wes-Kaap bestee word om meer as 400 ekstra basisstasies op te rig. Die grootste struikelblok is inwoners wat gekant is teen die bou van basisstasies naby hulle weens vrese oor bestraling en die estetika.
Maar Breed verduidelik as daar meer basisstasies in ’n gebied is, hoef die selfoon wat jy teen jou kop hou nie so hard te werk op soek na ’n sein nie. Die batteryleeftyd is langer, en die spoed en dekking van die netwerk is beter.”
Lees die berig hier