Die mis het nog laag oor die vlakte gelê toe die eerste deelnemers Saterdag (21 April) by vanjaar se derde Kasselshoop Farm Run / Walk opdaag, gereed om die 5.97 km-roete op die plaas Klein Soebattersvlakte, waar die bekende Kasselshoop Kaas vervaardig word, aan te pak.
‘n Nuwe roete het weer eens die deelnemers  begroet en net voor die ren om 9:00 begin het, het die mis gelig en die 52 geesdriftige deelnemers het die gemerkte roete vol geesdrif begin.
Al 52 het die einde gehaal en dit was voorwaar ‘n mylpaal, want dit was nie die maklikste roete nie! Dié keer was daar nie reën om die sand bietjie hard te maak nie en boonop het die roete met ‘n effense opdraande begin.
Baie geluk aan die jongste wenner tot dusver, Schalk Fouché (11) van Laerskool Bertie Barnard wat eerste by die einde was met ‘n tyd van 33min 20s. Boonop was ses deelnemers tussen die eerste 10 jonger as 15 jaar!
Die eerste dame was Elané Steyn.
Daar was nie net heelwat jong deelnemers nie, maar ook heelparty van die ouer garde en selfs stappers bo 70 – die oudste deelnemer was ‘n volle 79 jaar oud!
Dié byeenkoms het weer bewys dat enige een aan die maandelikse Kasselshoop Farm Run / Walk kan deelneem – hardlopers, drawwers, stappers, die jonges én diegene wat nog jonk van gees is…
Dit was ook heerlik om soveel besoekers van die buurdorpe te sien asook vakansiegangers wat dit ondersteun het.
Die volgende Kasselshoop Farm Run / Walk vind op Saterdag, 26 Mei, plaas en daar word ook ‘n 10 km-afstand vir dié dag beplan.
Al die nuus en inligting is beskikbaar op die webtuiste en die Facebook-bladsy.
Sien die resultate HIER en kliek HIER vir nog foto’s.

Ma en dogter doen die Kasselshoop Farm Run saam.

Einde