Produkte

Die BraaiBoet
Die BraaiBoet is jou unieke 1-stop braaistaander!
Met 5 braaivlakke en plek vir 2 vertikale ribrakke, is die braaier altyd in beheer. Skuif net die rooster op of af om by die hitte van die kole aan te pas. 
Met die BraaiBoet kan die braaier selfs die vleisbakke en kos warm hou en kan op meer as een vlak gelyktydig gebraai word. En dames, julle sal bly wees om te weet dat jou potte nie meer swart gaan word nie, want dit hoef nie meer op die vuur geplaas te word om die vleis warm te hou nie. En alles is sommer tegelyk gaar, want terwyl die vleis op die onderste rak gebraai word, kan die braaibroodjies op die boonste vlak begin braai. 
Vir die kinders wat honger is voordat die kos gereed is en die vuur nog te warm is, kan daar solank worsies op die hoogste vlak gebraai word en die honger mae kan solank gevul word.
Nie een van die 5 braaivlakke meng met mekaar in nie en die braaier kan op al 5 tegelyk braai indien nodig.
Met al dié gerief, kan die braaier lekker kuier en hoef hy nie soos ‘n kat op ‘n warm sinkplaat rond te dans om te verseker dat alles onder beheer is nie.
Dit pas ook perfek op ‘n ketelbraai (bv. ‘n Weber) vir bykomende hoogte en vou maklik op om te vervoer en weg te pak.
die BraaiBoet is voorwaar ‘n ideal geskenk vir ‘n man – baie beter as nóg ‘n paar sokkies of ‘aftershave’…
Dit is ook die ideale korporatiewe geskenk.

(Gesertifiseerde Kopiereg © op konsep, ontwerp en produk. Alle regte voorbehou.)

BraaiBoet Kolekrapper
Kyk, daar is kolekrappers en daar is kolekrappers. Die Braaiers sal weet. Daar is min dinge wat die Braaimeester só verwens en onkant betrap soos ‘n hitsige vuur waaruit die kole gekrap moet word met ‘n onvoldoende stukkie apparaat wat die hande en voorarms skroei.
Die BraaiBoet Kolekrapper is op die oog af ‘n eenvoudige stukkie apparaat, maar hierdie stukkie yster moet nie vlak gekyk word nie.
– Sy ekstra lang lengte maak dit maklik om daardie gloeiende rooi kooltjies met gemak uit te krap sonder om diegene (kinders veral) in die onmiddellike omgewing se woordeskat met ongewensde taal voortydig uit te brei.
– Die skuins kop is spesiaal ontwerp om die die uitkrapproses te vergemaklik en die lastigste rooi klontjies uit elke hoekie by te kom in teenstelling met ‘n apparaat wat ‘n T-kop het en neig om oral te gaan staan en vassteek.
– Selfs die handvatsel met sy handige greep vir óf die voorvinger óf die duim is ontwerp om die BraaiBoet Kolekrapper met gemak te hanteer.
Die oningeligtes mag dalk wonder waarom ‘n hele storie oor ‘n stukkie yster? Maar die fynproewer-braaiers – húlle sal weet….

BraaiBoet Kolebak
Hoé en wáár ‘n mens nou ookal jou vuur op jou braaivlak pak (links of regs), die BraaiBoet Kolebak maak hierdie belangrike fase van ‘n suksesvolle braai nét makliker, vinniger en probleemvry. Balanseertoertjies van ‘n heksebrandstapel of die kruis/dwarsformaat word eenvoudig uitgeskakel.
Jy pak eenvoudig jou houtstompies in die BraaiBoet Kolebak, die witblokkies word sommer onder die kolebak geplaas en siedaar, binne ‘n japtrap is die vuur aan die brand (mits jou hout natuurlik droog is…)
Die dae van ‘n houtstapel wat inmekaar tuimel en brandende stompe op ongewensde plekke laat beland, is verby. Die gleufies onder in die kolebak is so gespasieer dat die kole nie té groot of té klein uitval nie, maar net in die regte formaat.
Met die BB Kolebak pak jy eenvoudig nog stompies bo-op om ekstra kole soos benodig te maak.
Kole spat nie die wêreld vol nie en word net van onder uitgekrap. Die pote van die BB Kolebak is ook spesiaal ontwerp dat hulle nie in die pad kom wanneer die Braaimeester die kole uitkrap nie.
In kort, die BB kolebak werk maklik, vinnig, effektief, ekonomies en probleemvry.

BraaiBoet SandTrapper Steweltjies
Hierdie ougat bykomstigheid vir die unieke BraaiBoet braaistaander is spesiaal ontwikkel vir mense wat op die strand of ongelyke terrein soos in die veld ‘n vleisie of vissie wil braai. Wat kan nou daardie atmosfeer klop?
Die BB SandTrapper Steweltjies pas netjies oor die pootjies van die BB braaistaander en word met ‘n vleuelboutjie (wingnut) vasgedraai.
Die SandTrapper se voetstuk voorkom dat die BB braaistaander in die sand wegsak.
Ongelyke terrein is ook nie meer ‘n probleem nie. Die steweltjies kan eenvoudig verstel word om te verseker dat die roosters op die braairakke van die BraaiBoet nog steeds gelyk staan.
Die SandTrapper Steweltjies is ‘n moét hê vir BraaiBoet-eienaars wat iewers op ongelyke terrein wil braai.

(Gesertifiseerde Kopiereg © op konsep, ontwerp en produk. Alle regte voorbehou.)